Die bekkige kleintjie gesels ’n hond uit ’n bos uit. Sy sing graag liedjies soos Heidi, Pinocchio, Handjies-klap-koekies-bak en die Skoppelmaailiedjie. Hanna kan al tot by vier tel en sy ken ook al haar liggaamsdele. Maar dit is nie waar dit stop nie, sy herken dieregeluide en is ook fluks om vir haar eie hondjie kos te gee. Hierdie slimkop kan die e- en a-klanke uitken en herken haar naam as sy dit op papier sien.
Ons het vir Hanna se mamma gaan uitvra oor haar mylpale en sy vertel ons bietjie meer van hierdie woelwater.
Op hoeveel maande het Hanna op haar eie begin sit?
Sy het op vyf maande self gesit.
Wanneer het sy begin kruip?
Op nege maande het Hanna begin kruip.
Hoe oud was Hanna toe sy begin loop het?
Sy was 13 maande oud toe sy haar eerste tree gegee het.
Wat was haar eerste woord?
As ek reg onthou, was haar eerste woord “pappa”, so op ongeveer sewe maande.
Wat is Hanna se gunsteling-kos?
Vir seker macaroni met kaas en tuna en sy hou ook van mieliepap.
Het sy 'n spesiale teddie of kombersie waarmee sy graag slaap?
Nee, nie eintlik nie. Sy suig soms aan haar dummy, maar dit pla haar gelukkig nie te veel as sy hom nie het nie.
Wat trek haar aandag?
Enigiets wat geluide maak. Sy hou baie van diere, veral honde en katte.
Wat maak haar hartjie seer?
As sy nie by Ouma en Oupa kan gaan kuier nie. En natuurlik as sy nie haar sin kry nie.
Wat is haar gunsteling-storie/-televisieprogram?
Sy is mal oor Heidi en kyk ook baie graag Masha and the bear.
Beskryf haar in vyf woorde.
Skattig, dogtertjie, woelwater, babbelbekkie, slimkind.
Hoe het julle haar vertel dat sy ’n baba boetie gaan kry? Wat was haar reaksie en hoe hanteer sy die nuwe baba in die huis?
Ek het gereeld gepraat van haar boetie wat in my maag is en sy het dan graag my maag soentjies gegee. Met my seuntjie se geboorte was sy by ons. Dit is vir haar lekker om hom in die pram rond te stoot en sy dummy vir hom in te sit. Sy kom roep my wanneer hy huil. Sy is soms effe jaloers en dan knyp sy hom, maar dit gebeur maar baie selde; sy is eintlik baie lief vir haar boetie.
