Inperking: ’n Bedekte seën vir jou huwelik? Featured

Deur Ilze du Toit

 

Die nasionale inperkingstyd het verskeie geleenthede én probleme veroorsaak. Talle mense moes vir weke lank in naby kwartiere saam met mekaar woon en werk. Getroude paartjies kon hulself dalk op onverkende grond vind en dis vanselfsprekend dat die inperking ’n uitwerking op jou huwelik sou hê. 

 

Vir diegene wat jare reeds getroud is, kon die inperking dalk nie op ’n beter tyd gekom het nie. Na ’n paar jaar van getroud wees en een of twee kinders later, vind baie paartjies dat hul verby mekaar begin leef. Die druk van die morderne era veroorsaak dat jou verantwoordelikhede toeneem en jou vrye tyd afneem. Inperking het gevolglik ons lewens tot stilstand gebring en meeste van ons forseer om aan ons huwelik te werk, of ons nou wou of nie. Miskien kon jy vir die eerste keer in ’n lang tyd sien hoe jou man ’n Zoom-vergardering lei of hoe hy frons wanneer hy ekstra hard konsentreer. Dalk het hy jou sien werk en nuwe respek vir die ‘werkende jy’ gekry. Het julle as ’n span huis skoongemaak of saam begin oefen? Wanneer laas kon julle drie etes ’n dag saam geniet? Dis uit-en-uit ’n kwessie van die glas half vol sien. 

 

Daarteenoor kon baie paartjies dalk nie wag om weer terug te keer na hul normale lewe nie. Jong getroudes of paartjies wat gewoond is aan onafhanklikheid of ’n veeleisende loopbaan, moes ook die inperking aandurf en die uitwerking sou nie altyd so positief wees nie. Jy het dit dalk gemis om baas te speel by die werk en het daai energie op jou man en kinders bestee. Dalk kon jou man glad nie werk tydens die inperking nie en was hy meer gespanne as gewoonlik. Het dit gevoel asof hy ’n beer met n seer tand is? Het dit gevoel asof jy ’n kind bygekry het? 

 

Dit maak egter nie saak watter kant van die muntstuk jy jou huwelik bevind nie, een ding is verseker: inperking het jou met nuwe oë na jou huwelik laat kyk. Miskien was jy onder die indruk dat jy in ’n gesonde, groeiende huwelik was, net om te besef dat julle eintlik begin stagneer het. Dalk het die wittebroodfase vinnig tot ’n einde gekom tydens inperking omdat daar geen geheime of romanse meer bestaan het nie. Vir weke was jy nie toegelaat om sosiaal te verkeer met jou vriendinne nie. Dalk het jy besef dat jou beste vriendin nie so belangrik soos jou man is nie of dat jy lekkerder lag saam met hom wanneer jul alleen is. Dalk het die afstand julle perspektief gegee oor negatiewe invloede op jul huwelik of dalk het jy opgehou om jou eie verhouding met almal anders sin te vergelyk. 

 

Aangesien die inperking oor die Paastyd geval het, moes baie van ons kerkdienste by die huis kyk. Party van ons het saam nagmaal gebruik of selfs saam begin bid. Hoewel klein gebare, maak hierdie geestelike konneksie jou huwelik baie sterker. Die kwesbaarheid wat jy ervaar wanneer julle saam bid of bybel lees, wys vir jou man ’n totale ander kant van jou. Dis dalk iets wat julle aan die begin van jul huwelik gedoen het, maar sedertien afgeskeep het. 

 

Nou dat die inperking verby is en dinge besig is om terug te keer na normaal, voel die eerste paar weke van Vlak 5 dalk soos ’n droom wat lank terug dalk ’n werklikheid kon wees. Dis so belangrik om elke nou en dan jul huwelik af te sonder van die res van die wêreld. Gebruik die momentum wat die inperking julle gegee het en begin om op ’n gereelde basis jou eie huweliksinperking te hou. Dit grond jou, motiveer jou en forseer jou om introspeksie te doen oor die regte stand van sake. Dit bring jou lewe tot stilstand en gee jou die geleentheid om die klein krakies in jul verhouding reg te maak voor dit die fondasie begin affekteer.

Read 706 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account