Jou kinders se name en ouderdomme:
SJ is nou agt jaar oud, Sonja-Ane is sewe en Bernardt is vyf jaar oud.
Op hoeveel weke is jou kinders gebore?

SJ is op 28 weke gebore

Sonja-Ane is op 30 weke gebore

Bernardt is op 32 weke gebore
Hoeveel het hulle geweeg met geboorte en wat was hulle lengte?
Met SJ weet ek regtig nie, omdat hy my surprise bulletjie was. Ek weet dat toe hulle hom ’n week later geweeg het, was hy 1,7 kg en 29 cm lank. Sonja-Ane was 41 cm lank en het 1.5 kg geweeg. Bernardt was 43 cm lank en 2.2 kg swaar. Hy het 500 g in ’n dag afgeskud nadat hulle hom op continuous positive airway pressure (CPAP) gesit het. Was glo al die vloeistof van die stres van die verlengde geboorteproses.
Het jy normaal geboorte gegee of deur 'n keisersnee?
Al drie was vaginale geboortes. Ek het induksie gekry met Bernardt.
Wat was die eerste simptome dat jy in kraam is?
Met SJ was dit ’n storie. Ons het pas na Nieu-Zeeland geïmmigreer. Ons het die Maandag in Christchurch geland en die Vrydag uitgevind van SJ. Die dokter het gereken ek is 20 weke swanger. Daar het ons toe gereël vir ’n vroedvrou om ons die Maandag sommer by die hospitaal te sien sodat ek bloedtoetse kon laat doen. Maandagoggend 04:00 het ek die allervreeslikste krampe in my bene begin kry. Ons is hospitaal toe en 'n halfuur later was SJ gebore.
Met Sonja-Ane het ek vreeslik gebloei vanaf 22 weke, is op 25 weke opgeneem en na ses dae ontslaan vir twee weke se bedrus. Die oomblik toe ons by die huis stop, ek het skaars uit die motor geklim, toe begin ek weer bloei. Ons is dadelik terug hospitaal toe. Daar het ek gebly totdat Sonja-Ane gebore is.
Met Bernardt was ek besig om klere op te hang toe ek water teen my been voel afloop. Dit was nie eens baie nie, maar ek bel toe maar die vroedvrou. Sy het my by die hospitaal ondersoek en voorgestel ek gaan terug huis toe. Al wat ek moes doen, was wag. Ek was nog nie eers by die hospitaal uit nie, toe breek my water. Bernardt se hartklop het vinnig geval met die kontraksies en ek moes dus induksie kry.
Hoe het jy gevoel toe jy besef jou kind word te vroeg gebore?
Met SJ was ek erg in skok. Eerstens oor die onverwagse swangerskap, maar ook baie bly. Met Sonja-Ane was ek vreeslik emosioneel weens al die risiko’s omdat ek so gebloei het. Na haar geboorte het die dokter vir ons gesê sy het meconium ingekry. Dit is ’n risiko. Ek het gesukkel met depressie na haar geboorte. Ek was baie dankbaar dat Bernardt darem al oor die 31 weke was toe hy gebore is. Hy het nie so gesukkel met sy longetjies nie.
Wat was die rede dat jou kinders te vroeg gebore is?
Tot vandag toe kon niemand vir my ’n definitiewe antwoord gee nie. Daar was baie spekulasie, onder andere placenta previa, oorerflike kondisies, ens., maar niks konkreets nie. Die een dokter het vir my gesê: “Aanvaar maar jou oondjie bak net vinnig”.
Hoe lank was jou kinders in die hospitaal?
Ons was in daardie opsig baie gelukkig. Al drie my premmies was ’n maand of week of twee langer. Toe hulle eers kon latch, toe gaan dinge net klopdisselboom.
Hoe gereeld moes jy hulle dokter toe neem vir opvolgbesoeke?
Ek was baie gelukkig om my vroedvrou by my te hê vir die eerste nege weke met al drie my kinders. Sy het ons elke tweede week kom besoek. En elke derde week was daar ’n premmie-kliniek by die hospitaal.
Hoe beskerm jy jou prem-baba teen siektes en infeksie?
Higiëne is ’n groot monster, jy moet gereeld jou hande was en goed skoonmaak. Gelukkig gaan dit al baie beter teen nege maande en is dit nie meer so uiters noodsaaklik nie. Ons het ook kuiertjies beperk en slegs mense by die huis ontvang in ’n latere stadium. Ons het hulle vriendelik versoek om liewer die kuiertjie uit te stel as hulle dalk enige simptome van enige tipe siekte het. Ons vriende was oor die algemeen gelukkig baie konsidererend. Ek het al drie my babas geborsvoed en glo dit het ook baie gehelp.
Hoe is prem-babas anders as babas wat op voltermyn gebore is? (Hoe hanteer jy so 'n klein lyfie? Wat moet julle anders doen? Waarvoor moet julle versigtig wees? Hoe werk ’n prem-baba se voedings?)
Hulle tree anders op as voltermyn-babas, hulle huil nie hard nie, dis meer soos 'n klein katjie se geneul. Hulle sukkel om hulle eie temperatuur te beheer en hulle kan ook baie sukkel met asemhaling. Tot op die ouderdom van drie jaar het hulle 'n hoë risiko vir wiegiedood. Ek het Angelcare se breathing monitor gehad. Ek moes veral vir SJ teen 'n wedge pillow laat slaap en gereeld van posisie verander. Hulle al drie het wel baie geslaap en was baie slap. Ons moes maar bitter vinnig leer om hulle nekkies en koppies en ruggies mooi te ondersteun. Saggies maar doelgerig werk is die beste. Dus moet jy maar so gou moontlik betrokke raak met hulle alledaagse sorg in die NICU sodat jy die vrees kan oorkom. Dit vat maar ’n ruk. Veral die eerste week by die huis was nogal erg. Daar is nou nie meer ’n suster of masjiene wat kan help nie. Hulle is sensitief vir klank en skerp lig. Die dokter het verduidelik dit is omdat die neurologiese sisteem nog moet ontwikkel. Vir SJ het ons klere gekoop wat gebruik word vir teddiebeertjies. Vir die ander twee het pre-prem klere gewerk.
Het prem babas ’n agterstand wat mylpale aanbetref? (Soos bv. sit, kruip, loop en veral spraak?).
Ja, meeste van hulle het. Die gewone mylpale word tussen die ouderdomme van twee tot drie jaar ingehaal. Hulle behoort dan op dieselfde vlak te wees as meeste van hulle maats.
Indien wel, hoe bevorder julle hulle ontwikkeling?
Musiek kan hulle help om gewoond te raak aan die omgewing en klank. Dit help ook dat hulle makliker aan die slaap raak. Praat ook baie met jou kleintjie of lees vir hulle boeke. Dit help dat hulle gewoond raak aan stemme en klanke. Natuurlik is dit ook die beste manier om spraak te verbeter en voorkom dat hulle op ’n latere ouderdom nie te veel sukkel nie. Wateraktiwiteite stimuleer die spierbeweging wat lae spiertonus help beveg. Water is ongelooflik goed vir hulle en help hulle om te ontspan, of dit nou in die swembad of sommer in die bad is. Prem-babas word baie gou oorgestimuleer. Lawaaierige speelgoed en goed met liggies moet liefs vermy word.
