My babas is op 33 en 34 weke gebore Featured

Lynne Steinmann: "Met my tweede prem-baba was daar 'n kalmte oor my."

Hoe oud is jou kinders en wat is hulle name?

GD is vier jaar oud en Rainier is 18 maande.

Op hoeveel weke is jou baba gebore?

GD is op 33 weke gebore en Rainier op 34.5 weke.

Hoeveel het jou babas by geboorte geweeg?

GD het 2.18 kg geweeg en Rainier net 2.09 kg.

Het jy normaal geboorte gegee of met 'n keisersnit?

Met albei seuns moes ek ’n noodkeiser kry. Rainier was ’n brugbaba.

Wat was jou eerste simptome dat jy in kraam is?

My water het gebreek en met GD het ek vreeslik rugpyn ook gehad.

Hoe het jy gevoel toe jy besef jou baba word te vroeg gebore?

Toe ek besef ek gaan nou met GD in kraam, was ek vreesbevange, bekommerd en hulpeloos. Ek het nie geweet wat besig is om te gebeur nie. Ek het nie geweet of ek my seun of myself kon beskerm nie. Met Rainier was ek kalmer. Steeds bang, maar omdat ek geweet het wat hierdie keer op my en my baba wag, was daar ’n kalmte oor my.

Wat was die rede dat jou babas te vroeg gebore is?

Dokters vermoed daar was dalk ’n gedeelte in die plasenta wat bietjie dun was en dit kon veroorsaak het dat ek in vroeë kraam gegaan het.

Hoe lank was jou babas in die hospitaal?

GD was sewe weke in die hospitaal en Rainier vier weke.

Hoe gereeld moes jy jou babas dokter toe neem vir opvolgbesoeke?

Toe hulle kleiner was, moes ek hulle elke vier weke dokter toe geneem het. Nou dat hulle ouer is, is dit net nodig vir een keer ’n jaar.

Hoe beskerm jy jou prem-baba teen siektes en infeksie?

Met GD het ons daarop aangedring dat mense hulle hande was as hulle kom kuier en hulle verbied om hom te soen. Niemand wat siek was mag by ons kom kuier het nie. Na ’n sekere tyd van die dag het ons hom nie uit die huis uit geneem nie. Ons het ook plekke vermy waar daar baie mense was. Ek was paranoïes oor higiëne. Ek gee nou daagliks vir my kinders multi-vitamines en yster-aanvullings. Vandag is ons minder gepla oor kieme. Hulle is in die skool deur die dag en daar tel hulle gereeld een of ander siekte of kiem op. Ek dink omdat hulle prem was, is hulle bietjie meer vatbaar vir kieme, maar hulle ontgroei dit ook. Jy moet net onthou dat hulle kinders is en dat hulle leer deur te speel en te ontdek deur vuil te word.

Hoe is prem-babas anders as babas wat op voltermyn gebore is? (Hoe hanteer jy so 'n klein lyfie? Wat moes julle anders doen? Waarvoor moes julle versigtig wees? Hoe werk ’n prem-baba se voedings?)

Die verpleegsters in die NICU leer jou so mooi om daardie piepklein lyfies te hanteer. Mens is maar versigtiger met hulle as met ’n voltermyn-baba. Ek was maar altyd baie versigtig as ek hulle doeke geruil het om seker te maak ek maak nie hulle beentjies en ruggies seer nie. In NICU het my babas elke drie ure gedrink. Party prems se voedingsskedule verskil.

Het prem-babas ’n agterstand wat mylpale betref? (Soos bv. sit, kruip, loop en veral spraak?)

Dit hang seker af hoe vroeg die baba gebore is. Ek kan myself nie uitlaat oor ander prem-babas nie, maar my twee het hulle mylpale bereik, partykeer vinniger as verwag; andere kere weer bietjie stadiger. My seuns het nie regtig gekruip nie, hulle wou sommer dadelik begin loop. GD se spraak is heeltemal normaal vir sy ouderdom en Rainier begin nou mooi agter ons aan praat.

Hoe bevorder julle hulle ontwikkeling?

Ek en my man maak ’n punt daarvan om elke dag met die kinders te speel en individuele aandag te gee. Ons bou saam met GD legkaart en ons speel saam met Rainier in die sand, skop bal of sit en lees stories.

Read 2536 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account