Hoeveel kinders het jy en hoe oud is hulle? Seuns of dogters?
Ek het 'n babadogtertjie wat amper 'n jaar is (September).
Wat doen julle as gesin om tyd saam te spandeer?
Ons maak saam kos, ons gee vir ons dogtertjie ook bakke en lepels aan sodat sy nes Pappa en Mamma kan kook. Ons speel saam speelgoed en lees graag storieboeke.
Wat is jou mening en raad vir terrible two's?
My dogtertjie is nog 'n tydjie weg van daardie stadium, maar selfs nou wanneer sy deur 'n "moeilike" fase gaan probeer ek eerder haar gedrag ontleed en verstaan. Ek wil nie vir haar sê sy is 'n stout kind of skel as sy huil nie. Ek vind eerder die rede vir haar gedrag, bv. sy huil oor sy oorweldig voel deur al die geraas en ligte in die winkel sentrum of dit maak haar bang. Dan sal ek haar eerder optel uit die stootwaaentjie en styf vas hou terwyl ons inkopies doen of ons sal 'n stil hoekie gaan soek waar sy kan ontspan. Ek sal die terrible two's ook op daardie manier nader.
Moet kinders pakslae kry?
Nee. Jy kan nie 'n kind leer dat geweld die regte reaksie tot enige situasie is nie. "Moenie die katjie slaan nie, dan slaan Mamma jou". Dis nie logies nie. Leer eerder uit voorbeeld deur om te verduidelik hoekom die katjie nie geslaan mag word nie en demonstreer hoe ons die katjie moet vryf met 'n oop handjie. Ek sal eerder ander metodes gebruik om disipline te handaaf. Mense verwag ook dat klein kindertjies "soet" moet wees en optree soos klein "grootmensies" wat luister en kan redeneer, terwyl hulle nog te klein is om te verstaan en impulsie beheer te hê. Verstaan jou kind, moenie jou kind probeer verander nie, verander eerder jou perspektief as ouer.
Wat is in jou medisyne tassie vir kinders?
Ek het 'n baie groot medisynetassie met alles onder die son in, maar mens het eintlik nie veel nodig nie. Borsmelk kan meeste dinge vinnig regruk. Soos 'n paar druppels borsmelk in die neus, ogie of ore, op brandboude of baba aknee. Borsmelk bevat antibotiese eienskappe. Ek het wel 'n stropie vir die pyn en setpille vir naarheid en braking wat die dokter aanbeveel het.
Wat is jou grootste begeerte nog altyd gewees?
Vandat ek 'n klein dogtertjie was, was my begeerte om 'n mamma te wees. Ander kinders sou antwoord hulle wou 'n dokter wees, maar ek wou 'n tuisbly-mamma wees. Toe ek my dogtertjie gehad het was dit asof ek uiteindelik my doel in die lewe ontdek, my gesin is my passie en om elke oggend daardie oulike gesiggie te sien glimlag vir my gee my oneindige vreugde.
Dink jy die "moderne ma's" stel ander belange bo hul kinders?
Ek dink baie vrouens het nog altyd hul eie belange en gemak bo als geplaas. Veral die vrouens in die artikel wat sê dat hulle wens hulle het nooit kinders gehad nie. Dis hoekom mens so baie hoor Mammas kla dat hulle baba drink te gereeld (te gereeld vir wie se gemak?), baba slaap nie deur nie (wie se gemak steur dit?), baba is te ma-vas (wie verontrief dit?) ens. Die rol van die Pappa in die kind se lewe het ook 'n groot impak hierop. 'n Mamma mag dalk nie haar eie belange eerste plaas nie, maar sy het gedink dat sy en Pappa sou 50/50 kinders grootmaak toe sy swanger geword het. Ongelukkig na baba se geboorte gaan Pappa terug na sy rugby, kuier saam met pelle of sy stokperdjie en Mamma is 'n "enkel ouer". Ek glo dat Pappa net so veel vir sy kinders moet doen as Mamma, dis immers beide se kind. Die dae van Mamma wat vloere skrop en alleen na baba omsien terwyl Pappa rus na hy heel dag "hard gewerk het" is verby. Ma's en Pa's is ewe belangrik in 'n kind se lewe en moet hulle kant bring.
Watse raad het jy vir vrouens voor hulle daaraan dink om kinders te hê?
Vrouens moet baie mooi nadink voor hulle die besluit maak om 'n nuwe afhanklike lewe in die wêreld in te bring. Hulle moet nie net hulself blind staar aan die oulikgeid en die moderne doeke sak en stroller wat by hulle outfit gaan pas nie. Gaan jy die poef doek ruil? Gaan jy ok wees as daar poef op jou hand kom? Gaan jy daardie boog baba opgooi met jou hande vang as daar nie 'n spoegdoek naby is nie? Gaan jy heel nag wakker en regop sit in die bed en baba sus sodat sy gemaklik kan slaap oor sy deur 'n growth spurt gaan of maagpyn hê? As jy 'n lewe maak, moet jy bereid wees om daardie lewe eerste te sit. Moenie net 'n baba kry oor jy twee jaar getroud is, jy voel jy is 'n vrou en jy moet, jou vriendinne het almal kinders of jou ma bly vra vir kleinkinders nie. Maak ook seker jy praat voor die tyd ernstig met jou man en laat hom verstaan dat julle albei na baba gaan omsien en dat hy 'n aktiewe rol in die kind se lewe gaan speel. Hy gaan ook slaap verloor, want hy moet help. Hy gaan doeke ruil, water aandra vir Mamma wat sit en borsvoed en baba besig hou terwyl Mamma die huistake verrig.
Is dit ok om nie kinders te wil hê nie?
Dis ok om te sê jy wil nie kinders hê nie. Of as jou passie eerder jou beroep is. En dis ook okay om te erken jy wil eerder jou eie gemak hê en jou lewe vir jouself hou. Dit maak jou nie 'n slegte vrou of persoon nie. Moenie kinders hê oor ander dit van jou verwag nie, dit gaan oor die beswil van die onskuldige baba. As jy nie lief is vir jou kind, soos die vrouens in die artikel, en hom nie wil he nie, laat hom eerder aanneem sodat hy in 'n liefdevolle huis kan grootword by mense wat hom regtig graag wil hê. Kinders voel als aan en dis nie reg om hom te laat grootword by 'n ma wat hom nie wil hê nie.
Wat is jou mening oor ma's van gestremde baba's?
Daar is te min ondersteuning en hulp vir Mammas van gestremde babas en selfs groter kinders. Meeste van die kere sien hulle self om na hul kindjie 24uur van die dag, elke dag van sy lewe. Oor hulle spesiale behoeftes is daar nie baie skole of mense wat na hulle kan omsien nie. Mamma kry nooit 'n blaaskans nie en dit moet verskriklik moeilik wees. Mammas van gestremde babas is superheroes.
