Ouderdom van jou kinders:
Kayla is 14 jaar oud en Gustav is 9.
Waar in Suid-Afrika bly jy?
Sasolburg, Vrystaat.
Watse tipe werk doen jy?
Ek is 'n projek-koördineerder by 'n ingenieursmaatskappy.
Hoekom het jy besluit om aan te hou werk?
Finansiële redes – om ons kinders die beste moontlik te kan gee, vereis twee salarisse.
Was dit uit vrye wil of weens finansiële redes?
Finansiële redes. As ek enigsins 'n opsie gehad het, het ek sekerlik nie gewerk nie.
Hoe oud was jou baba toe jy teruggegaan het werk toe?
Beide my kinders was vier maande oud toe ek terug is werk toe.
Hoe lank het jy kraamverlof gehad?
Met albei my kinders het ek vier maande onbetaalde kraamverlof gehad. Dit was maar baie swaar, maar dit was vir my belangriker om so lank as moontlik by hulle te wees.
Hoe het jy gevoel toe jy moes teruggaan werk toe?
Dit was vir my baie moeilik en ek het die dagmoeder omtrent elke uur gebel. Ek het definitief harder gehuil as enige van my babas.
Hoe belangrik is jou loopbaan vir jou?
Ek het gekies om nie 'n loopbaan te hê nie, maar 'n werk. My kinders se behoeftes en welstand sal altyd vir my belangriker wees as enige loopbaan. “I am first and foremost a mother”. Vir baie mense sal dit ambisieloos klink, maar dit is glad nie die geval nie; bloot 'n persoonlike keuse. Ek kritiseer ook glad nie mammas wat wel 'n loopbaan het nie; soos ek sê, dis bloot 'n persoonlike keuse.
Hoe handhaaf jy 'n balans tussen alles?
Goeie beplanning is my redding. My man is my rots, my steunpilaar en sonder hom sou ek beslis lankal my varkies verloor het; hy help my ongelooflik baie. Ek doen soveel moontlik beplanning in die aand, pak skooltasse, kosblikke ens. En dan hou ek dagboek van elke aktiwiteit en geleentheid.
Het jy geborsvoed toe jy teruggegegaan het werk toe?
Nee, ek het nie.
Waar bly jou kinders gedurende die dag?
My dogter is in die hoërskool en het meestal smiddags aktiwiteite. My seun is in 'n nasorgsentrum.
Wat is jou werksure?
Ek werk Maandae tot Donderdae vanaf 7:00 – 16:00 en Vrydae vanaf 7:30 – 12:00. Sou my werk ekstra ure vereis, sal ek saans en naweke by die huis werk.
Voel jy goed daaroor dat jy iets vir jouself doen?
My belangrikste oorweging om te werk is om my kinders finansieel beter te kan versorg. Ek wil graag sien dat my kinders eendag hulle eie drome bewaarheid deur 'n suksesvolle beroep te beoefen en nie slegs iemand anders te help om hulle droom te verwesenlik nie. Dit is ook vir my belangrik dat kinders bemagtig word deur die voorbeeld wat hulle ouers stel, om te besef dat jy as individu sterk genoeg is om vir jouself dinge te kan doen en vir jouself te sorg.
Wat is die mees rewarding deel van jou dag?
Om in die aand huis toe te gaan en jou kinders se lyfies teen jou vas te druk en te weet: dit maak nie saak hoe sleg jou dag was nie, hierdie liefie-lyfies maak alles die moeite werd. Om deel te wees van hulle lewens en te sien hoe hulle groei, nie net liggaamlik nie, maar ook emosioneel. Dis 'n absolute voorreg om deel van hulle grootword journey te kan wees.
Het jy hulp by die huis?
Ek het twee dae per week 'n huishulp wat help met skoonmaak, wasgoed en stryk.
Lees ook die storie van hierde werkende ma as deel van Change Exchange on Brightrock. Sy sê: "Working mothers incur an “energy debt” in the first four to six years of their children’s lives. We go into the ‘red’ and don’t acknowledge or even recognise it, beyond the feeling of exhaustion. Everyone, ourselves included, just expects us to get on with it."
