Hoe oud is jou kinders?
Nathan is agt jaar oud en Christian 19 maande.
Waar in Suid-Afrika bly jy?
Ek woon in Roodepoort, Johannesburg.
Het jy gewerk voor jy kinders gehad het?
Ja, tot vyf maande na die geboorte van my tweede seuntjie.
Wanneer het jy besluit jy wil 'n tuisblyma wees?
Met die geboorte van my tweede seuntjie wou ek graag by die huis wees, want ek het gevoel ek mis al sy mylpale. Hy het maar 'n swak immuunsisteem gehad en gereeld siek geword by sy nuwe skool, en ek het besluit om toe eerder by die huis te bly om my kinders gesond te hou.
Was dit 'n moeilike besluit?
Dit was n moeilike besluit; werk in Suid-Afrika is maar skaars en ons moes mooi kyk of dit iets is wat vir ons gesin sou werk.
Mis jy jou werk?
Daar is tye wat jy as tuisbly mamma maar die geselsies van volwassenes mis, en vir n hele ruk na ek die besluit gemaak het, het ek gewonder: was dit die regte ding om te doen? Maar hoe meer die tyd verbygaan, hoe makliker word dit.
Sal jy teruggaan werk toe eendag of hoe sien jy jou toekoms?
Ek sal dalk oor 'n paar jaar besluit of ek n halfdag posisie wil aanpak, maar tans is ek nog baie gelukkig saam met my seuntjies by die huis.
Voel jy jy het jou loopbaan opgegee om 'n ma te word?
As ek kyk na my loopbaan en ma wees, voel ek ek is gemaak vir ma wees eerder as die werkende mamma. Ek sal my kinders vir niks verruil nie.
Was dit gedwonge of was dit eie vrye wil?
My keuse was uit eie vrye wil, maar my man het my 100% ondersteun.
Hoe het jou vriende en familie op jou besluit gereageer?
My vriende en familie het niks negatiefs gesê oor my besluit nie. Van hulle en van my man het ek nog net ondersteuning ontvang.
Watse invloed het dit finansieel op julle as gesin gehad?
Finansieel was dit nogal 'n aanpassing vir ons as gesin. Met my man as enigste broodwinner moes ons baie dinge hersien, maar wat ons help, is dat ek my seuntjies self tuisskool. Dit is n geweldige finansiële las van ons skouers af. Om ons finansies 'n hupstoot te gee, maak ek geskenkies in my vrye tyd wanneer die kinders in die bed is, en dit werk wonderlik vir ons.
As jy weer kan kies, sal jy dieselfde besluit maak?
As ek weer kon kies, sou ek dit net so wou hê. Ek sal niks verander nie.
Wat is die mees rewarding deel van jou dag?
Die mees rewarding deel van elke dag is om my kinders te sien lag en groei, en om te weet ek mis niks nie.
Het jy enige hulp by die huis?
My man is my steunpilaar, hy help oral waar hy kan. Saam kry ons alles gedoen.
Lees ook die storie oor 'n ma se moeilikste keuse as deel van Change Exchange on Brightrock.
