Wat is jou dogter se naam en hoe oud is sy?
Erika van Wyk is 20 jaar oud.
Is sy doof gebore of op watter ouderdom het sy doof geraak?
Erika is doof gebore, maar dis eers bevestig op die ouderdom van twee en ’n half jaar.
Wat is die simptome van ’n kind wat moontlik doof is, waarna moet ouers oplet?
’n Kind wat doof is se spraak is baie agter. Hulle leef in hulle eie wêreld en kan nie hoor tensy hulle vir jou kyk nie.
Hoe het jy gevoel toe jy hoor jou dogter is doof?
Ek was baie geskok. Ek was besig om deur ’n egskeiding te gaan en het baie alleen gevoel. Ook het ek gewonder hoe ek dit sal maak.
Kon die dokters vir jou ’n rede gee hoekom sy doof is?
Ons het na baie toetse en uitvra gevind dit kan wees as gevolg van ’n suurstoftekort tydens my swangerskap. Ek het ’n asma-aanval in my laaste weke van swangerskap gekry en die dokter was seker dit was die oorsaak.
Hoe kommunikeer julle?
My kind kon liplees en ons het dadelik begin met intense spraakterapie. Sy het elke dag vir ’n uur lank spraakterapie gehad.
Watter invloed het ’n dowe kind op julle huishouding? (Hoe doen jy dinge anders as ander gesinne?)
Ons het ’n keuse gemaak om ons dogter so normaal as moontlik groot te maak. Sy het geen spesiale behandeling gekry nie.
Wat het die feit dat jou kind doof is jou geleer?
Dit het my geleer dat almal in die lewe gelyk is met of sonder ’n gebrek. Dit het my ook baie geduld geleer.
Wat is jou raad vir ander ma's wie se kinders doof is?
Vat elke dag soos dit kom. Moenie jou moeg spartel voor jy nie al die feite het nie. Baklei vir jou kind. Ons leef in ’n wrede wêreld en kinders kan monsters wees. Doen soveel as moontlik navorsing; hoe beter jy ingelig is, hoe makliker is dit. Die belangrikste is, moet nooit opgee nie.
Wat wil jy graag nog deel aan ouers rakende dowe kinders?
Leer jou kind dat sy nie anders is nie, maar uniek. As dit kom by jou kind leer lees, wees baie geduldig. ’n Dowe kind kan homself nie hoor klank nie. Dit was vir my die moeilikste van alles. Onthou: dowe kinders se ander sintuie is meeste van die tyd oorontwikkel. Smaak en reuk is gewoonlik uiters goed. Erika is ’n uitstekende proeër omdat sy doof is. Sy eet geen vleis en groente nie.
