Jou kinders se name en ouderdomme:
Emily is ses jaar oud, Alexander is vier, Nika is twee en Anibelle is vyf maande oud.
Waar in Suid-Afrika bly jy?
Ons bly in die Kaap.
Het jy gewerk voor jy kinders gehad het?
Ja, ek het.
Tot wanneer het jy gewerk?
Alhoewel ek graag al wou tuisbly met my eerste baba, was dit net nog nie moontlik vir ons nie. Terwyl ek swanger was met my derde kind, kon ek myself net nie sien teruggaan werk toe nie, maar ek het ook geweet ons het my salaris nodig. Twee weke voor ek moes teruggaan werk toe, kry my man uit die bloute 'n nuwe werk met 'n beter salaris en dit dek al ons uitgawes. Ek het dadelik my drie maande kennis gegee. Met my eerste dag terug by die werk was my baba so siek en van daar af in en uit die hospitaal. So ek was nooit weer terug werk toe. Dit was perfect timing.
Wanneer het jy besluit jy wil 'n tuisbly ma wees?
Dit was al my hartsbegeerte as kind om net ’n mamma te wees, maar dit was met my derde swangerskap wat ek net ’n voorgevoel gehad het en besluit het dis nou die tyd. (Al het ek geen idee gehad hoe ons dit sou doen nie).
Was dit ’n moeilike besluit?
Dit was en dit was nie. Ek het in my hart geweet dis die regte ding op die regte tyd, maar die onsekerhied om nie te weet of alles gaan uitwerk nie. was moeilik.
Mis jy jou werk?
Glad nie. Ek het my werk ge-love en sou my tyd daar nooit wegwens nie. Maar daardie fase van my lewe is nou verby.
Sal jy teruggaan werk toe eendag of hoe sien jy jou toekoms?
Ek en my suster het, terwyl ek nog gewerk het, ons eie sideline besigheid begin, MonaLisa Mamas, wat gebore was uit ons eie behoeftes as ma's. So vandat ek n tuisbly ma geword het, het ons die besigheid meer aandag gegee. Dit pas perfek in by ons gesinslewe, want dit vat niks weg van my tyd met my kinders nie. Inteendeel, dit is 'n extension van my tyd met hulle.
Voel jy jy het jou loopbaan opgegee om 'n ma te word?
Nee, nie vir een oomblik nie.
Was dit noodgedwonge of was dit eie vrye wil?
Dit was uit vrye wil.
Hoe het jou vriende en familie reageer op jou besluit?
Albei kante van die familie het ons besluit ge-praise.
Watse invloed het dit finansieel op julle as gesin gehad?
Dit was absoluut deur God se groot genade die regte tyd, want my man se nuwe pos het my inkomste presies gedek, so ons het glad nie 'n verlies gely nie. Inteendeel, my twee jongstes kon by my gebly het deur die dag, so ons het speelskoolgeld ook gespaar.
Hoe voel jy nou oor jou besluit?
Ek het nie geweet hoe moeilik dit is om n tuisbly ma te wees nie. Dis vrek harde werk. Ek werk meer en harder as wat ek ooit tevore gedoen het. Maar ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie. Dis die grootste voorreg om by my kinders te kan bly.
As jy weer kan kies, sal jy dieselfde besluit maak?
Ja! Sonder enige twyfel.
Wat is die mees rewarding deel van jou dag?
Die oomblik waneer my man by die huis instap, na ons kyk sê: "Hierdie is my rykdom".
Het jy enige hulp by die huis?
Ons gebruik een keer elke twee weke SweepSouth se dienste. Verder spring ons almal maar in en kyk self na ons eie koninkryk.
