Dokter Gert Steyn gee raad vir brandwonde Featured

'n Kind wat verbrand is seker die grootste nagmerrie ooit. Dr. Gert Steyn gee raad. 

In kort, vertel ons van jouself?

Ek is ’n mediese dokter en tans werksaam by Kimberley Hospitaal se departement van plastiese en rekonstrutiewe chirurgie, asook die brand-eenheid. My persoonlikheid is van so ’n aard dat ek van “mooi” hou. Plastiese en rekonstruktiewe chirurgie is vir my ’n passie omdat dit die “mooimaak” van dit wat is of van dit wat nie moes gewees het nie. Ons verskaf dienste aan pasiënte oor die hele Noord-Kaap. Ons voer nie kosmetiese operasies uit nie, maar fokus eerder op rekonstruktiewe operasies wat die herstel van geboortedefekte behels, soos gesplete verhemeltes of lippe. Meeste van my tyd word egter bestee om na pasiënte wat brandbeserings opgedoen het, om te sien. Ek geniet elke aspek van my werk, maar veral die uitdagings wat in die teater na vore kom. Dit is daar waar dit vir my saak maak.


Vir by die huis (nie ernstige brandwonde):


Wat sou jy vir ma's voorstel om altyd in hulle medisyne-tassie te hê vir ligte brandwonde?


‘Saline’ kan aangekoop word en kan gebruik word om enige ongekompliseerde wond skoon te maak. Ek sal dan aanbeveel om ’n boksie “parafin-gaas” aan te hou - dit is ’n stukkie gaas wat bedek is met ’n parrafin jelly, en dit beskerm die wond teen uitdroging en plak ook minder aan die wond self. Daar is klomp verskillende produkte beskikbaar en sekeres bevat ook ‘anti-septiese’ eienskappe. Die gaas word dan in plek gehou met pleisters of verbande.


As 'n kind gebrand het (nie ernstig nie) wat is die eerste ding wat 'n ma kan doen?


Wanneer jou kind brandbeserings opdoen, moet dit vir ’n paar minute onder lopende kraanwater afgespoel word. Dit help om die brand-proses te stop en sodoende die pyn te verlig. Na dit afgespoel is kan die wond versigtig skoon gemaak word met ’n soutwateroplossing. Indien moontlik moet die blasies en enige ‘los’ vel wat maklik afkom versigtig verwyder word. Indien jou klere aan die brand sou slaan, “stop, val en rol om” om die vlamme te blus. Leer jou kinders om dieselfde te doen indien hulle ooit brandbeserings sou opdoen.


Wat moet jy nooit doen as jou kind gebrand het nie?


Moet liefs nie enige “vreemde” middels of stowwe daaraan wend nie (botter, eiers, koffie ens). Dit kontamineer die wond en kan lei tot infeksie, wat die genesing van die wond beïnvloed.

Wat is die tekens dat die brandwonde besmet mag wees?


Tekens dat die wond besmet mag wees en mediese aandag nodig het, is wanneer die wond aansienlik seerder word, rooi rande ontwikkel, ’n offensiewe reuk ontwikkel en dan wannneer die kind koorsig begin word.

Wat moet gedoen word as daar blasies vorm weens die brand wonde?


Die belangrikste deel is dat meeste brandbeserings voorkomend is. Wees bewus van die risiko’s en die gevare, veral waar klein kindertjies teenwoordig is. Moet nooit kinders sonder toesig toelaat naby stowe, oonde, ketels, verwarmers, oop vure, gasbranders, kerse, baddens met warm water of emmers kokende water nie. Moenie elektriese koorde of toerusting met warm vloeistof of kos binne bereik laat nie. Moet ook nie ’n kind warm kos of vloeistof gee nie, en moenie warm items eet of drink met ’n kind op jou skoot nie. Moenie ’n kind in 'n warm bad sit voordat jy die temperatuur getoets het nie. Moet nooit kerse laat brand waar jy nie teenwoordig is nie.


Bietjie meer ernstige brandwonde soos bv. 'n pot kookwater wat op 'n kind val:

As daar bv. 'n pot kookwater op 'n kind sou val, behalwe om die kind so gou moonltik by ongevalle te kry, wat is die eerste stappe wat mens kan doen? Hoe word hierdie brandwonde behandel?


Dieselfde geld as vir kleiner wonde, die brandproses moet gestop word. Dit mag behels om die klere uit te trek. Die wonde moet dan sover as wat die area toelaat, afgespoel word onder lopende water. Wanneer dit nie moontlik is nie kan nat/klam lappe/handoeke aan die wonde gewend word. Dit koel die wonde af, verlig van die pyn en beskerm die wonde teen uitdroging. Dit is belangrik om die die kind te veel af te koel met die bogenoemde proses nie, en moet dus so ver as moontlik warm gehou.Die bogenoemde stappe moenie die proses om die kind na ongevalle te vat, vertraag of verhoed nie, want die belanrikste in só ‘n geval is steeds om by die dokter te kry.  Die voortgesette behandeling van die wonde sal bepaal word deur die assesering van die wonde se diepte, oppervlaksarea ens, en sal deur die mediese beampte bepaal word.


Indien 'n swanger vrou ernstige brandwonde op haar maag aandoen, sal dit haar ongebore baba skade aandoen?


Daar is klomp veranderlikester sprake, soos die soort brand, ernstigheidsgraad, area aangetas en dan selfs ook hoe ver die swangerskap gevorder is. Hoe groter en hoe dieper die brandwonde, hoe groter sal die liggaam se reaksie wees ten opsigte van die besering, en dit is gewoonlik wat nadelig vir die baba kan wees as dit nie reg hanteer word nie. Daarom moet alle swanger vrouens wat brandwonde opdoen, mediese aandag kry om seker te maak dat sy en haar baba ongedeerd is.


Enige raad wat jy vir ouers wil gee?


Dit is altyd raadsaam om die mening van ’n mediese beampte in te win wanneer jy of ’n kind brandwonde opdoen – veral wanneer jy twyfel oor die ernstige aard van die beserings. Dit is beter dat ’n professionele persoon daarna kyk, eerder as wat jy twyfel en wag om mediese hulp te soek. - Alta van Wyk

 

Read 6394 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account