Melissa Young ... Moomie-ma van die week Featured

Melissa, 'n Moomie-ma, praat met ons oor die vreugdes van ma-wees en haar vrees dat haar seun dalk outisties was.

Hoe oud is jou seuntjie en wat is sy naam?

My seuntjie is nou twee jaar oud en sy naam is Dewald.

Hoe ver is jy swanger?

Ek is tans tien weke swanger.

Hoe berei jy jou seuntjie voor dat daar vir hom 'n boetie/sussie op pad is?

Dit gaan n groot aanpassing wees vir hom, omrede hy tot dusver 'n enigste kind was en centre of attention is. Ons het vir hom 'n toddler bedjie gekry. Omdat hy in ons kamer geslaap het tot nou, het ons gedink dit is nou 'n goeie tyd om hom so ver te probeer kry om in sy eie kamer te slaap. Hy word soms nog wakker deur die nag, maar ons druk deur daarmee sodat dit makliker is as Boetie/Sussie eers hier is. Hy was ook baie geheg net aan my vir die eerste jaar en 'n half. Onlangs het hy n baie goeie band met pappa begin vorm en ons glo dit gaan ons baie help.

Het jy geborsvoed?

Ek het wat hulle noem inverted nipples, asook die eerste week het ek geen melk gehad nie, nie eers kolostrum nie. Ek het n voorskrif gekry by my dokter en toe die melk eers begin uitkom, wou baba nie meer aan my drink nie, want hy was gewoond aan 'n bottel. Ek het toe vir ses maande melk met 'n borspomp uitgepomp en vir hom met 'n bottel gegee.

Wat is jou definisie van die terrible twos?

Terrible twos … mmmm. Ek het 'n baie interessante eerste twee jaar gehad met my kind. Hy moes grommets laat insit en vir spraakterapie gaan. Ons het hom in 'n kleuterskool gesit sodat hy met ander maatjies kan speel en interaksie hê. Met alles wat ons deurgegaan het, is daar een ding wat ek geleer het van tantrums, mood swings ens.: kinders kort stimulasie, kinders se liggaampies verander baie, hulle groei en leer nuwe goed. Dit is soms oorweldigend vir enige kind wat nog so baie het om te vorder en te leer. Hulle weet nog nie hoe om al die nuwe emosies en funksies van hul liggame te hanteer nie en Mamma is die enigste konstante ding in 'n kind se lewe van geboorte af. Daarom voel hulle dis okay om by Mamma te gaan huil, hul emosies met Mamma te deel en net vasgehou te wil wees deur Mamma. Gelukkig gaan hierdie stadium vinniger verby as wat mense dink. Dis net vasbyt.

Op watter ouderdom het jou kind:

Sy eerste tand gekry?

Op drie maande het die gums al begin jeuk en die spoeg geloop, maar geen tand nie. Op 11 maande (uiteindelik!!) toe sny hy sy eerste tandjie.

Op sy eie gesit?

Hy het op vyf maande begin regop sit sonder support.

Begin kruip?

Begin kruip so tussen ses en sewe maande.

Begin loop?

Hy het op sy eie regop gestaan op sewe maande, maar eers op 11 maande vrylik begin rondloop

Eerste woord gesê?

Hierdie was ons groot bekommernis en het baie hartseer veroorsaak, veral vir my. Op agt maande het hy Mamma gesê en toe opgehou. Na 'n paar maande wat hy niks gesê het nie, het ons hom dokter toe gevat omrede ons bang was hy kon dalk nie mooi hoor nie. Ons het grommets laat insit, baie duur gehoortoetse laat doen en spraakterapie begin. Ons was bekommerd dat dit dalk outisme was a.g.v van so baie tekens en mylpale wat hy nie bereik het volgens die boeke nie. Na drie maande het hy begin babbel en gesels en weer Mamma gesê, begin wys, sy oogkontak het verbeter, hy het vir mense begin waai en is die lieflikste kind.

My raad aan elke ouer hier is: as jy bekommerd is, neem jou kind dokter toe, laat hulle seker maak daar is niks fout nie, hoe vroeër hoe beter. Maar gee jou kind ook tyd; elke kindjie vorder op sy tyd en leer dinge soos sy liggaam hom toelaat. Vandag het my kind al sy mylpale bereik. Daar is nog goedjies waaraan ons werk, maar hy het soveel gevorder. Gee hul net tyd.

Noem drie goed in jou doekesak waarsonder jy nooit iewers gaan nie.

Ek is nie iemand wat hou daarvan om die hele huis saam met my te dra nie en my kind is maklik om uit te neem; sy behoeftes is eenvoudig. Al wat hy kort is doeke, wipes en sy bottel.

Wat is in jou medisynetassie?

Pyn- en koorsmedisyne, oordruppels en rou heuning (slegs vanaf een jaar af).

Wat moet iemand nooit vir 'n swanger vrou sê/vra nie?

Daar is 'n paar dinge waaroor ek baie sterk voel in die hele afdeling van probeer tot geboorte:

  1. As 'n paartjie getroud is, hetsy hulle alreeds kinders het of nie, vra mens nooit wanneer kom 'n baba of wanneer kom die volgende een nie. Jy weet nie wat hulle omstandighede is nie, en as hul dalk nie wil kinders hê nie, is dit ook mos okay?
  2. As iemand sukkel om swanger te raak, hou op “raad” probeer gee waarvoor nie gevra word nie of vir hulle te sê hulle moet net relax en dan sal dit gebeur nie. Die saak is teer genoeg soos dit alreeds is.
  3. As iemand swanger is, moet nooit vrae vra soos bv. Gaan jy 'n keisersnit hê of normaal kraam? En hulle dan probeer oortuig om die ander een te doen nie. Elkeen se ondervinding en opinie verskil.
  4. Moenie net aan 'n swanger mamma se maag vat sonder om te vra nie. Jy beweeg in haar persoonlike spasie in; nie almal hou daarvan nieLaastens, moenie net toesak by die hospitaal/huis van ouers wanneer Baba gebore word nie. Daai klein lyfie wil nie deur tien arms vasgehou word nie. Mense doen dit en dink dis okay, maar Mamma moet na die tyd sukkel om baba rustig te kry.

Wat is 'n ma?

'n Ma is iemand wat alles sal opgee vir haar gesin, wat deur die seerste seer sal gaan om haar gesin die pyn te spaar. Wat eerder sal sorg dat almal anders kos het, skoon klere en warm bedjies het, voor sy na haarself sal omsien. 'n Ma is iemand wat onvoorwaardelik liefhet, wie se hart eintlik breek wanneer sy moet nee sê of raas. 'n Ma is 'n engel uit die hemel.

Wat is jou gunsteling-resep, iets waarvan jou seuntjie ook hou?

Mielieplaatkoekies (perfek vir middagete of as 'n snack vir kleinding)

'n halwe blik suikermielies

2 klein uitjies

1 eier

1 eetlepel suiker

90ml koekmeel

olie om in te braai

Metode

Meng mielies en uie tot fyn.

Voeg eier en suiker by en meng deur.

Verhit olie en skep lepels vol van die beslag in die pan.

Braai aan albei kante tot mooi bruin.

Sit voor saam met 'n sous van jou keuse of 'n bietjie kaneel.

 

 

Read 791 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account