Hoe oud is jou kinders?
My dogter, Kayla is 14 jaar oud en my seun, Gustav is nege jaar oud.
Watter metode van dissipline werk vir jou kinders?
Ek glo glad nie aan lyfstraf nie en het nog nooit aan my kinders geslaan nie. Ek sal die probleem met hulle deurpraat en verkies om eerder hulle voorregte te ontneem as lyfstraf toe te dien. My tienerdogter se selfoon en tablet sal ek vir 'n bepaalde periode wegneem, dit is straf genoeg. Met my seun sal ek sy sporttoerusting vir 'n bepaalde periode wegneem of sy televisietyd beperk.
Wat is die verskil tussen terrible twos en tiener mood swings?
Die enigste verskil is die grootte van die culprit se lyf. Terrible twos kan op 'n manier nogal cute wees, maar daar is niks cute aan tiener mood swings nie. Albei kan tantrums gooi vir 'n vale, maar dit bly maar 'n manier van manipulasie. Jy as ouer word bloot getoets om te kyk tot waar jou geduld strek. As jy op die terrible two-stadium dit reeds duidelik stel dat jy nie sulke gedrag sal duld nie, behoort jy nie probleme te hê in die later tienerjare nie.
Wat is ’n gepaste ouderdom vir kinders om selfone en tablette te kry?
My dogter was tien toe sy haar eerste selfoon gekry het. Die grootste oorweging hiervoor was sodat ek haar na-skool in die hande kon kry, aangesien sy by 'n na-skool was. My seun is nege en het nog nie 'n selfoon nie. Ek voel dis belangrik dat kinders die waarde van goed moet besef en jy as ouer nie bloot onder groepsdruk moet swig nie.
Van watter ouderdom af moet 'n kind sakgeld kry?
Ek dink nie daar is 'n vasgestelde ouderdom nie; elke ouer moet besluit wat vir hom werk. My kinders kry van kleins af sakgeld, maar elkeen het spesifieke takies wat verrig moet word. As jy nie jou takies verrig nie, kry jy nie sakgeld nie – hulle leer verantwoordelikheid hierdeur asook dat elke aksie 'n reaksie het. Dis belangrik dat hulle die waarde van geld besef en dat mens moet werk vir dit wat jy wil hê; dit gaan nie net in jou skoot val nie.
Wat is nou die nuutste gier onder kinders van 14 en nege jaar oud?
Meisies van 14 is op 'n baie moeilike stadium. Hulle is nog nie volwasse nie, maar hulle is ook nie meer klein nie. Partykeer kan mens die innerlike stryd sien waarmee hulle wroeg. Die meisies is maar baie op die jongste modes en veral handelsmerke ingestel, waar die seuns meer op tegnologie ingestel is. Die seuns van nege is redelik sportmal. My seun se hele wêreld gaan net oor sport (rugby, krieket, judo, Formule 1, MotoGP).
Wat het ouerskap jou geleer?
Dat ons kinders kosbaar is, wonderwerke wat net deur ons Vader aan ons geleen is, en dat ons hulle soos goud moet oppas.
Dat jou hart regtig vir die res van jou lewe buite jou liggaam klop.
Om elke oomblik saam met my kinders te geniet; hulle word heeltemal te vinnig groot.
Jou verhouding met jou kinders is soos 'n bankrekening – wat jy insit, sal jy uitkry.
Beslis 'n sin vir humor.
Dat alles net 'n fase is en sal verbygaan.
Dat ek ongelooflik bevoorreg is om 'n mamma te kan wees. Daar is so baie vrouens wat smag na hierdie voorreg.
Wat is jou raad vir ma's wat tienerdogters het?
Behandel jou meisiekind met respek. Die manier waarop jy haar behandel in haar tienerjare kan haar regtig maak of breek.
Luister na haar. Skinder saam met haar. Wees daar vir haar.
Deel haar drome.
Laat haar weet sy is vir jou belangrik.
'n Tiener se selfbeeld is baie broos. Dink voordat jy iets in die hitte van die oomblik kwytraak. Woorde slaan harder as vuiste.
Leer haar van onvoorwaardelike liefde. Leer haar van ons hemelse Pappa, want dis die enigste voorbeeld van onvoorwaardelike liefde wat daar is.
Deur die voorbeeld wat jy stel, leer jou dogter hoe iemand veronderstel is om haar te behandel – maak dit 'n goeie voorbeeld.
Leer haar dat teleurstellings deel van die lewe is en dat dinge nie altyd uitwerk soos jy wil hê nie.
Ek en my dogter het 'n baie spesiale verhouding. Ons praat oor alles. Ons spandeer baie tyd saam, al doen ons soms onbenullighede of sit net saam op die bank en kyk 'n lekker chick fliek.
Wat is 'n ma?
Afhangende van julle verhouding kan 'n ma of 'n engel uit die hemel wees of jou ergste nagmerrie. 'n Ma is 'n vriendin, 'n steunpilaar, 'n anker, 'n engel sonder vlerke. 'n Ma is hoop in 'n dikwels onstuimige wêreld.
