Hoe oud is jou kinders?
Ek het twee dogtertjies. Miecke is vier jaar oud en Melzaan is een.
Watter metode van dissipline werk vir jou kinders?
Ek het 'n metode wat ek die "sterretjie-metode" noem. Dit begin met een sterretjie op 'n plakkaat. Sodra sy my help met iets, kry sy 'n sterretjie by, maar as sy ongehoorsaamheid toon, haal ek een af. As sy 'n sekere aantal sterre bereik, word sy beloon.
Hoe hanteer jy 'n tantrum in die openbaar?
Ek beweeg na 'n meer sosiaal-aanvaarbare plek soos die badkamers of ek stoot my winkeltrollie na 'n hoek in die winkel en ek doen dit so kalm as wat ek kan. Dan praat ek mooi met haar en gee haar 'n bietjie aandag. Hulle is ook maar net klein en die lewe is oorweldigend, so as ek met haar praat, probeer ek haar punt ook insien. Ek luister na wat sy wil sê en ons maak 'n besluit wat die beste vir ons altwee sal werk.
Wat is jou definisie van terrible twos?
As ek dink aan die terrible twos, wil ek net glimlag. Dis 'n merkwaardige ontwikkelingsfase waartydens jou tweejarige kind dikwels 'n tantrum gooi en gereeld voorgee dat jou stem nie meer bestaan nie. Dis 'n ongelooflike stadium in 'n kind se lewe wat ek so baie geniet. Hulle is op 'n ontdekkingsreis en ons is deel van die avontuur. Geniet dus die wakkermaak in die oggend met 'n stoute glimlag en die besige lyfie, want in my oë is daar nie 'n terrible two nie - die terribles hou nooit op nie - hulle wissel net in diepte.
Noem drie goed in jou doekesak waar sonder jy nooit iewers gaan nie.
Doeke, wipes en peuselhappies (vir my en vir Baba).
Wat is jou raad vir:
Brandboudjies: Sudocream, dit werk soos 'n bom vir my poppie.
Tandesny: Ek het so 'n oulike ronde houttandering met hasie-oortjies vir die spoegies as geskenk gekry. Dit is so oulik en het vreeslik baie gehelp, dag en nag.
Potty training: Spandeer baie aandag aan jou kind, dit kom met baie tyd en moeite. Ek het haar altyd saam met my badkamer toe gevat dat sy die idee kry van wat moet gebeur. Ek het haar op die potjie laat sit met oulike onderklere om die aandag af te trek. Ek het dan vir haar gesê sy moet op die potjie piepie. As sy gepiepie het, het ek haar beloon.
Morning sickness: Ek was baie gelukkig dat ek nie vreeslike morning sickness gehad het nie, net aan die begin met my eerste dogtertjie. Wat vir my gehelp het, was sout-en-asyn chips, dit het my naarheid gedemp.
Jou opinie oor groot eerste verjaardagpartytjies?
Ek is baie groot op verjaarsdagpartytjies en ek gaan groot; ek is mal oor mooi maak en koek bak. Vir my is dit instink om dit so spesiaal as moontlik te maak. Sommige mense sê vir my ek doen onnodige moeite om so groot te gaan op my dogtertjie se eerste verjaarsdag, maar as ek kan, hoekom nie?
Was jy al ooit vir ’n familie-fotosessie en wat is jou raad vir ma's as die kinders nie wil saamwerk nie?
Ja ons was, dit was 'n vreeslike aangename ondervinding as familie. Ons het speletjies gespeel en ek het lekkernye saamgevat om my vierjarige se aandag te kry. Dit was bietjie moeiliker met my eenjarige - sy was 11 maande en was bietjie moeilik. Vat 'n speelding saam wat baie geluide maak en gee dit vir die fotograaf om die kleintjies se aandag te trek.
Wat is 'n ma?
Daar is ontelbare definisies van 'n ma: 'n ma luister, verstaan, gee raad, offer op, versorg, vergewe, het slaaplose nagte, ervaar geluk. Tussen haar en haar kind is 'n band wat niemand kan breek nie. Daar is goeie herinneringe, lekker kos en natuurlik onvoorwaardelike liefde.
