Hoe oud is jou kinders?
Nathan is agt jaar oud en Christian is 19 maande.
Hoe het jy vir Nathan voorberei dat hy 'n boetie gaan kry en dat hy nie meer die enigste kind gaan wees nie?
Ons het vir Nathan vertel hy gaan ’n nuwe bababoetie of -sussie kry. Eers was dit maar vir hom iets wat hy nie verstaan het nie, maar ek het hom saamgevat vir die sonars en hy het saam gesien hoe sy boetie groei.
Watse invloed het ’n nuwe baba in die huis op Nathan gehad?
Nathan is die beste helpertjie in die huis. Hy het sommer dadelik lief geraak vir Boetie en wou hom net heeltyd vashou en help doek ruil. Vandag is hulle groot maatjies en speel graag saam karretjies.
Gee voorstelle vir die kosblikkies.
My kinders word tuis skool gegee, maar hulle knibbel graag deur die dag aan koue vleisies en blokkies kaas. Hulle is ook lief om aan appels en jogurt te peusel. En eet graag vir middagete 'n toebroodjie met ham en drink vrugtesap.
Wat is altyd in jou doekesak?
’n Ekstra doek, wet wipes, waterbottel, ’n snack en ’n ekstra stel klere.
Wat geen jy vir pyn en koors?
Calpol werk goed vir Kleinboet (hy kry bitter min koors, ek kan die kere op my hande tel). Sou my groter seuntjie iets nodig hê, is Panado ons staatmaker.
Wat is jou raad vir potty training?
Om geen vloeistof na omtrent 17:00 te gee nie. Neem Baba elke 20 minute badkamer toe. Ons het sommer dadelik die groot toilet met ’n trappie gebruik, so skuif jy nie Baba na die klein potjie en dan weer toilet toe nie. Dis sommer dadelik maklik.
Wat is jou definisie van die terrible twos? Dink jy die ouderdom drie en vier jaar is erger?
Terrible twos is wanneer jou kind besef hy het keuses. En gewoonlik verander sy keuse wanneer dit te laat is en dan blaas hy op. Dis asof hulle oornag verander in klein monstertjies wat jy nie ken nie. Drie jaar oud was vir ons beslis erger met ons oudste seuntjie as toe hy twee jaar oud was. Dan gebruik hulle nie net hulle humeur nie, maar ook hulle woorde. Teen so vier jaar oud sal ek sê begin dit beter raak, asof hulle weer die oulike kleinding word wat jy eens op 'n tyd geken het.
Watse 'ouvrou-stories' het jy al gehoor rakende kinders grootmaak?
Geen, my ma het net altyd gesê: "Buig die boompie terwyl hy nog jonk is". En dis baie waar. Dissipline gebeur nie vanself nie. En word gekweek terwyl jou kinders nog baie klein is.
Waar koop jy graag vir jou kinders klere?
Vir die babastadium beslis Pep; hulle groei so vinnig uit hulle klere dat jy nie kan byhou nie. Vir ons groter seuntjie koop ons graag by Ackermans, want hulle klere is baie meer durable vir rowwe spel.
Wat is ’n ma?
Ek dink ’n ma is als. 'n Mamma kan agterkom wat haar kindjie nodig het sonder dat hy dit sê. Hoe wonderlik is ons nie geprogrammeer om te weet hoekom jou baba huil wanneer hy huil en nie kan praat nie. Om net uit jou kind se houding te weet hy voel nie lekker nie. ’n Mamma se hart moet streng genoeg kan wees om haar kind die regte ding te leer, maar sag genoeg om daar te wees as sy hartseer voel en ’n ekstra drukkie nodig het.
