Don't know if you girls read the Sunday newspapers, but saw this Sunday in the Rapport, and thought I must just share it with you girls! I think my husband would run away and not come back if I had this kind of news
www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Verwa...s-eintlik-4-20111015
Verwag 3, hoor dit is eintlik 4
2011-10-15 23:22
Marié en Riaan van Rensburg het al drie pare babaskoentjies gekoop toe hulle hoor daar is ’n vierde kleintjie op pad.
Sy het van pure skok gehuil toe die ginekoloog sê sy verwag ’n drieling.
Maar dit sou nog ’n volle ses maande duur voordat sy sou hoor daar is vier babas ... nee, drie ... nee, vier!
Mev. Marié van Rensburg van Ashton sê dit het haar byna twee jaar geneem om haar man, Riaan, te oorreed om ’n tweede baba te kry.
Hul eersteling, Zaria, is drie jaar oud. In April vanjaar het sy ’n swangerskaptoets tuis gedoen en tot haar vreugde gesien sy is swanger.
In Mei, reeds agt weke swanger, is sy ginekoloog toe vir die eerste sonar.
“Toe die dokter sê hy sien drie koppies op die skerm het ek begin huil: Nie van blydskap nie, van skok! Ek het eers ’n uur lank in die dokter se spreekkamer gesit voor ek my man met die gróót nuus gebel het.”
Riaan het dit goed hanteer.
“Ek dink sy woorde was: ‘Hulle gaan baie hartseer bring, maar baie meer vreugde.’?”
Riaan erken hulle was erg benoud. Marié voeg by: “Hoe maak ’n mens gereed vir drie?
“Ons moes begin dink aan ’n nuwe motor en nog ’n paar hande. En hoe ons geldelik die mas gaan opkom, want ek moes ophou werk. Met baie gebede, hoop, goeie vriende en die ondersteuning van familie het ons begin gereed maak vir drie.”
Hulle het selfs begin opgewonde raak, sê Riaan.
En toe gebeur dit.
Ses maande nadat die dokter haar oor die drieling ingelig het, het ’n vriendin haar vertel van ’n verpleegsuster in Montagu wat opgelei is om sonars te doen.
“Ek het toe besluit om te gaan, net om te hoor of die hartjies nog klop en of alles reg is.”
Die suster kyk toe en sê sý sien vier koppies op die skerm!
“Toe huil ek weer, dié keer heeltemal histeries.”
Marié is terug na haar ginekoloog en hy sien net drie babas.
“Ek was verlig, maar het bly wonder ...”
Op 22 weke is sy na ’n fetale spesialis, dr. Linne Muller, wat ook net drie koppe gesien het.
Maar die Van Rensburgs wou eens en vir altyd weet en is terug na Muller.
“Dr. Muller sien toe dié keer vier koppe. Toe huil ek weer! Maar dit was rêrig nie die dokters se fout nie. Die een het heeltemal agter die ander weggekruip.”
Marié sê hulle het al die skok verwerk en opgehou huil.
“Ons vriende spot dat daar dalk ’n vyfde een wegkruip – niks sal ons nou meer verbaas nie. Ons besef hoe geseënd ons is. As ek om ons kyk, sien ek hoe baie vroue sukkel om swanger te raak.”
Die drie dogtertjies en ’n seuntjie is gesond en het al name:
Loihan, Mieke, Jana en Anke.
“Ek is so bly oor die seuntjie vir my man se onthalwe, want anders was dit net ’n huis vol vroue.”
Sy weet dit gaan geldelik moeilik wees.
“Die stresvlakke is maar hoog as ons dink dat alles nou met vier vermenigvuldig moet word, maar ek glo God sou nie meer aan ons toevertrou het as wat ons kan hanteer nie.”