Vrou verdrink toe sy bal agternasit
’n Jong ma van Noordwes wat kinderhuiskinders vandag met hope Kersgeskenke sou verras, se lyk is gistermiddag in die Vaalrivier by Bloemhof gevind nadat sy in ’n fratsvoorval verdrink het.
Me. Christine du Toit (31) het eergistermiddag saam met vriendinne in die vlak rivierwater met ’n bal gespeel toe die bal in die stroom beland het en sy agterna is.
“Sy het haar misgis met hoe sterk die stroom is,” het een van die vriendinne, me. Lieschen van Biljon, gister vertel.
“Die water het haar gevat en ek het agterna geswem om haar te probeer help. Christine was ’n goeie swemmer. Sy het ’n rukkie geswem en toe skielik onder die water verdwyn.
“Ek het intussen ook gevoel hoe sterk die stroom is en toe sy sak, het ek eerder kant toe geswem.”
Du Toit se tweejarige dogter, Isabel, en nog kinders het die voorval gesien gebeur.
Polisieduikers van Bloemhof, Christiana en Potchefstroom het sedert Sondag na Du Toit gesoek. Juba, ’n reddingshond, en mense van die Bloemhof-gemeenskap het ook help soek waar die polisie se reddingsboot nie kon ingaan nie.
Du Toit se lyk is gistermiddag laat gevind, sowat 1 km stroom af van waar sy Sondag onder die water verdwyn het.
Haar man, mnr. Gerhard du Toit, was gister nog te geskok om met Beeld te praat. Die egpaar was betrokke by die bestuur van die Visagie-slaghuis in Bloemhof, ’n familie-onderneming.
“Die hele Bloemhof rou,” het Van Biljon gister gesê. “Sy was welbekend en bemind.
“Christine was so ’n vrygewige mens wat almal net wou help. Sy het elke jaar Kersgeskenke vir kinderhuiskinders ingesamel. Haar huis het volgestaan daarvan en sy sou dit môre (vandag) vir hulle vat.”
Me. Anneline Buys, DA-raadslid vir Christiana en Bloemhof, het gesê die Bloemhofdam naby die Vaalrivier se sluise is gisteroggend vir sowat ses uur toegemaak om die water, wat sterk vloei ná die swaar reën, te laat sak sodat daar makliker na Du Toit gesoek kon word. Die Bloemhofdam is 97% vol.
Van Biljon het gesê dit was ’n groot vertroosting vir dié mense wat help soek het na ’n geliefde inwoner toe Du Toit se lyk gister gevind is.
“Ons verstaan nie die weë van die Here nie, maar Christine se dood is vir ons almal ’n les dat ’n mens moet seker wees jou lewe is reg. Christine se lewe was reg.”
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie getref nie.