Ek wil graag hierdie gebed met julle deel....
Here Jesus
U was self eenmaal deur Maria op intieme wyse gedra en U sou haar late "Moeder" noem. Nou het ek die blye verwagting om self draer van 'n kindjie te wees. Dit vervul my met matelose verwondering om so deur U gebruik te word. Maar ek moet ook bely dat daar soms 'n bange huiwering in my hart is: daar is soveel wat verkeerd kan loop en soveel waaroor ek as hulpelose mens geen beheer het nie.
Maar U, my liefdevolle Meester, het daaroor beheer - en dit gee aan my vrede en berusting. Ek loof en dank U daarvoor!
Dankie dat u Heilige Gees my telkens in hierdie dae toefluister: "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou. Ek help jou, Ek hou jou vas" (Jes 41:10).
Meester, maak my minsaam selfs wanneer ek olik voel. Maak my gretig om nou reeds 'n goeie moeder te wees. Wanneer die tyd van my bevalling aanbreek, maak my sterk en wees met u genade en vrede by my.
U het soveel groot dinge in hierdie wereld deur babatjies vermag, en U self het as 'n baba in hierdie wereld gekom om te red.
Gebruik my vir u heerlike doel in die lewe van my ongebore baba, Here en laat die lewe tog goed wees vir my kindjie.
Ek aanbid U as die Lewegewer en liefdevolle Skepper-God. Seen ook my huisgesin deur my en ons ongebore baba in hierdie dae. Ek bid dit alles om die ontwil van Jesus Christus, die Prins van vrede!
Amen