My gemoed voel vanoggend soos die weer, bewolk.
Ek kry myself ongelooflik jammer, voel of ek soos 'n kluisenaar lewe in my eie huis. Ek gaan net uit om die kinders hulle skole te gaan aflaai en te gaan haal. Ek sien en praat met geen ander mense nie en nou dat ML deur die week nie hier is nie, is dit nog erger. Ek kom nerens nie, ek sien niemand nie. Dit voel vir my asof niemand omgee en moeite doen vir my.
Ek het gedink dinge sal anders wees as ons in PTA bly, aangesien ek hier meer mense ken, maar dit lyk my almal is so besig met hulle eie dinge, wat ek ook verstaan, dit voel net of niemand ooit tyd het vir my nie.
Ek is en was nog altyd die een wat moeite doen om kontak te hou met vriendinne en wat moeite doen vir hulle. Ek het dit nog nooit regtig terug ontvang nie. Dit maak nogal seer.
Jammer as ek soos 'n klakous klink, ek moes net iewers kom se hoe ek voel, want se ek dit vir ML dan voel hy skuldig omdat hy moet weg werk en daaraan kan nie ek of hy iets doen nie.